Ons is Konrad Rode, vryskutkunstenaar, en sy lojale kat, Spike, wat 'n belangrike rol speel in die ontwerp-proses. Vra maar vir Spike: "Wanneegrr ek fê Kongrrad moet 'n blaafkanf vat, dan betegrr hy dit doen."*
* Vertaling: "Wanneer ek sê Konrad moet 'n blaaskans vat, dan beter hy dit doen." Spike mag nou wel al afgetree wees, maar hy't reuse slagtande wat laas duisende jare gelede gesien is aan 'n sabeltandtier. Dit beteken natuurlik Spike kan nie sy "s" uitspreek nie, en hy brei.
Konrad se praktiese benadering met ontwerp dien sy kliënte en hulle onderskeie markte pleks van sy ego. Dis iets wat goeie ontwerpers eers leer soos hulle ouer word.
Kopiereg
Konrad se ontwerpe behoort aan sy kliënte – hulle't tog daarvoor betaal, of hoe? Meeste ontwerp-ateljees glo graag hulle besit die kunswerk (of webtuistes), sodat wanneer hulle 'n kliënt verloor, hulle óf weier om die oorspronklike ontwerpe te oorhandig, óf hulle slegs lae resolusie weergawes oorhandig.
Sodra 'n projek klaar (en betaal) is, stuur ons die oorspronklike ontwerpe.
Oor webtuiste-ontwikkeling
Konrad se sterkpunte is eenvoudige webontwerp wat deur maklike navigasie en vinnige laaitye gekenmerk word – maar nóg belangriker, webtuistes wat mens maklik op Google vind wanneer jy soek vir die dienste of produkte wat die webtuiste bevat. 'n Mooi webtuiste is mos niks werd as dit nie gesien word nie, of hoe?
Met ander woorde, ons ontwerp webtuistes wat vinnig vir hulself betaal. Dis nogal raar vir ontwerpers om praktiese waardes bó estetiese waardes te stel, maar Konrad weet ook maar al te goed dat ons almal éérs geld moet maak; daarná kan ons mos maar afshow.
Om die waarheid te sê, die enigste vorm van bemarking wat Konrad vir homself doen, is die einste webwerf waarna jy nou kyk.
Ons kliënte
Ons tipiese kliënte is klein maatskappye of individue, al hét ons al groot korporasies as kliënte gehad het - in laasgenoemde geval, is dit gewoonlik werk wat vir streek-spesifieke afdelings gedoen word.
Ons verstaan wat dit beteken om van nuuts af te begin, so ons stel goedkoper opsies aan voornemende kliënte voor wanneer hulle nog nie die ideale begroting het nie, selfs al beteken dit soms dat ons niks werk by hulle kry nie - ons was op 'n stadium self daar gewees.
Ons het (nog) nie superpowers*** nie. Alhoewel ons ál die dienste wat bo genoem word, self doen, is daar ander dienste wat ons aan ander, betroubare diensverskaffers uitkontrakteer. Ons kliënte is natuurlik altyd welkom om hulle eie diensverskaffers te gebruik.
*** Konrad hét natuurlik al Spike sien "swem" deur 'n bosheining. Twee keer reeds. Hy het wél bomenslike krag.
Visitekaartjies en briefhoofde as selfstandige dienste
Al is ons tariewe baie redelik, bespreek ons openhartig goedkoper opsies met voornemende kliënte wat platsak is.
Hier's 'n voorbeeld: Gewoonlik ontwerp ons nie visitekaartjies as 'n selfstandigejob nie, tensy die kliënt bereid is om R1 000+ uitsluitende drukkerskoste te betaal vir iets spesiaals of ongewoons.
Ons ding nie mee met direkte drukwinkels ("instant print shops") soos Quickprint nie. Hulle's ideaal vir vrek goedkoop, vinnige maar generiese visitekaartjies, en hulle sal waarskynlik vir jou 500 kaartjies ontwerp en druk vir slegs R500.
Spotgoedkoop webtuistes
In die geval van webwerwe, het ook nie almal die geld vir 'n opregte webwerf nie. Party kopiewinkels sal vir jou 'n webtuiste ontwerp en huisves vir R400/maand**** teen geen deposito nie.
Al ís dit 'n tydelike oplossing, is dit ook die duurste ene op die lang termyn, en meer belangrik, wanneer die dag kom dat jy jou webwerf wil skuif na 'n goedkoper en meer betroubare huisvesting ("host"), of jy wil 'n ordentlike webwerf-ontwerper laat oorneem, sal jy vind dat jy nie die webtuiste saam jou kan neem nie.
**** Professionele huisvestings vra gewoonlik maar net R20/maand vir intreevlak webtuistes, so mens kan duidelik sien hoe die kopiewinkels hulle geld maak.
By Konrad se huis in Eversdal (in Durbanville), Kaapstad, maar ons verkies om kliënte in koffiewinkels of by hulle werksplek te ontmoet. Konrad het kliënte van ander stede soos byvoorbeeld Johannesburg en Pretoria, en het baie kliënte wat hy nog nooit eers ontmoet het nie. Dis alles moontlik gemaak deur die ding wat ons die Interwebz noem.
Al ís Konrad se ateljee nie meer in die Suidelike Voorstede nie, en ook nie meer in Bellville nie (dis waar hy gróótgeword het), sien ons kliënte van oral.
So, kom om ons gaan drink 'n koppie koffie iewers en laat ons kyk of ons kan help ;-)
Kontak Konrad by
of by 082 44 66 526 tydens werksure.
Sedert geboorte het Konrad geteken en geteken, terwyl sy liefdevolle ma, Linda, hom ondersteun het. Hy't natuurlik sy kunstalent by haar geërf. Die natuur en Asterix sou sy grootste invloede as 'n spotprentkunstenaar en illustreerder wees.
Konrad se suster, Frauke, het ook die talent geërf, maar het toe 'n dokter geword wat nou ongelukkig vêr van haar broer af, aan die ander kant van die aardbol werk. Ons sien haar darem elke Kersfees.
Toe Konrad maar nog 5 of 6 was, het hy reeds in die moeilikheid beland by die tipies puriteinse laerskool wat hy bygewoon het, toe hy heel onskuldig 'n skets van 'n kaal vrou en man geteken het.
Die volgende jaar is daar vir hom gesê hy moet ook ophou vir Jesus te teken in Bybelklas, alhoewel daar later besluit is dat dit OK is, solank mens Jesus met 'n stralekrans teken.
As 'n volwassene, terwyl hy vir 'n klein ontwerpateljee in Bellville werk in 1999, het Konrad se pa**, Erwin Rode, hom gehelp om sy eie maatskappy – Rode Graphics BK – op die been te bring sodat Konrad die geld kon hou wat base uit hom sou maak – ten minste in teorie (grynslag). Hulle was albei lede van die Beslote Korporasie.
Rondom 2006 het Konrad toe sy werk huistoe geskuif na Rosebank toe, en sommer van die hele BK idee ontslae geraak ten gunste van eenvoudiger vryskutwerk – Konrad hou net mooi niks van administratiewe werk nie ("Ek's mos 'n kunstenaar!").
Teen sy tienerjare het Konrad 2 3 groot belangstellings gehad:
1. Wetenskap
"Ek wil 'n polisieman / brandweerman word" was natuurlik nie meer genoeg nie. Konrad sou toe later 'n ompad neem deur vir 'n denkbeeldige BSc Genetika / Entomologie / Kwantumfisika by die Universiteit van Stellenbosch te studeer. Hier het hy sy Moses teëgekom toe hy ontdek dat mens eintlik hard moet studeer om Organiese Chemie deur te kom.
Deesdae het hy steeds 'n groot belangstelling in wetenskap, bv. eksotiese siektes wat die mensdom laat lyk soos 'n nagedagte, bv. die wonderbaarlike Ebola.
2. Kuns
Nou ja, teen ouderdom 23 het Konrad toe uiteindelik sy 3-jaar Nasionale Diploma in Grafiese Ontwerp gekry. Ná die verpligte ompad van "homself vind" (hy't toe nooit verdwaal in die eerste plek nie), word hy toe 'n opregte "arm kunstenaar", nés sy pa hom gesê het hy sou.
3. Meisies
Konrad was té skaam en gehipnotiseer deur hulle stralekransies en engelvlerkies om enigiets daaromtrent te doen terwyl hy nog op skool was. Hy onthou nog hoedat hy teen ouderdom 12 skielik in lamppale en bome vasgeloop het omdat sy oë elders was.
Selfs in sy 20's het hy hom verbeel dat blomme en skoenlappers uit hulle hemelse monde vlieg.
Sien Konrad se illustrasie hieronder om te sien wat ons bedoel:
Dis 'n óú debat, dié van wie nou eintlik Konrad se regte pa is, aangesien hy maar min in gemeen het met Erwin, ten minste oppervlakkiglik. Was dit die melkman? As jy Konrad se ma, Linda ken, sou jy darem weet sy's 'n engel.
Maar, hoe ouer Konrad word, hoe meer begin hy dink hy word soos sy pa (dis vreeslik – dis soos daardie "Luke... I am your father" toneel in Star Wars).
Meer oor Erwin Rode op sy maatskappy Rode & Genote Eiendomskonsultante se webtuiste >
Sedert Spike 6 jaar oud is, het hy elke dag geduldig gewag vir Konrad om huis toe te kom van sy ateljee in Bellville af.
Hy't heelwat kere probeer insluip by Konrad se plek, maar hy's elke keer uitgejaag – nie dat Konrad wreed is nie – hy't 'n effense allergie vir katte gehad en Spike hét darem 'n "eienaar" gehad.
Toe, ná 2 jaar hiervan, in 2006, het Konrad hom uiteindelik laat binnekom. Vandaar was dit net liefde, en Spike neem toe amptelik vir Konrad aan.
Spike, in die bure se afgeskeepde turksvyboom raakgesien