Oor die Eskom-onderbrekings...
Onthou nog hoe ons elke week een of twee láng kragonderbrekings gehad het, en hoe klein maatskappye geforseer was om honderde of duisende rande op kragopwekkers en brandstof te spandeer? Die geld wat Suid-Afrika verloor het gedurende daardie tydperk is in miljarde getel. En 'n paar entrepreneurs het natuurlik geld soos bossies gemaak deur dié kragopwekkers in te voer ;-)
Natuurlik, soos ons dit verstaan, was dit nie soseer Eskom se fout gewees nie, want hulle het die regering al vróég in die dae van demokrasie gewaarsku oor hierdie komende krisis, maar die regering het dit geïgnoreer. Mens kan Eskom nogtans nie vergewe oor hulle blatante leuens oor die redes vir die kragonderbrekings nie.
Op 'n snaakse noot, onthou jy toe een-of-ander mal nasionale regerings-minister geïnsinueer het dat die leier van die opposisie – destyds ou prim 'n' proper Tony Leon – ge-leopard crawl* het in Koeberg kernkragsentrale in, en 'n bout in die kernreaktor gegooi het om die kragonderbrekings te veroorsaak? Ons regering is báie meer vermaaklik as die Bushes en Blairs van daardie tyd!
*Dit was Zapiro se gevolgtrekking, as ons nou reg onthou!
Konrad onthou hoe hy party aande op die M5 in Kaapstad gery het terwyl daar geen ligte was nie – nie in die strate nóg die woongebiede nie. Dit was spookagtig. En hoe 'n paniekbevange bestuurder rég verby 'n dooie verkeerslig gery het teen 100km/h, en so amper Konrad se lewe gekos het.
Dit het gevoel asof ons land uiteindelik uitmekaarval. Orals was mense pessimisties oor hulle toekoms en het dié wat dit kon bekostig, begin om ontsnappingsroetes na lande soos Australië en Brittanje beplan. Daardie jaar was 'n skerp herinnering van nét hoe afhanklik ons is op ons infrastruktuur. Gelukkig lyk dit of dit als nou in die verlede is. En ons het darem steeds die Sokker Wêreldbeker toernooi gekry ;-) O, en president Zuma het nog nie sy onderdane begin eet, soos die koerante ons destyds sou wou laat glo nie.
Konrad onthou ook hoe hy 'n groep Duitse toeriste toevallig hoor praat het in 'n donker restaurant in die Kaapse middestad, tydens een van die eerste kragonderbrekings. Hy kon nie presies uitmaak wat hulle te sê gehad het nie, maar hulle het definitief die outentieke "Afrika-ondervinding" gekry waarvoor hulle betaal het. In Kaapstad, nogal! |