'n Ou vriend van Konrad sedert preprimêr, Pieter de Waal (van Vinotage), het 'n logo nodig gehad wat die Middeleeuse oorsprong van hierdie Bolandse wyn sou weergee.
Hy wou 'n wynetiket hê wat sê "huiswyn" – iets warms, 'n ietsie vir vriende. Hy wou definitief nie Nederburgh hê nie. So, as dit 'n bietjie soos "clip art" lyk, wel, dis veronderstél om cheap te lyk.
'n Bietjie manipulering aan die lettertipe, 'n ligte "felt pen" kontoer om die bekende Paarlberg weer te gee vir die area waar sy wyn vandaan kom, fyn beplanning van die kleure en siedaar! Dis natuurlik 'n oorvereenvoudiging.
Oor die jare het die Hermit on the Hill etiket verander, en Pieter het meer wynetikette vir verskillende variante gevra. Dis wonderlik om te sien hoe hierdie onpretensieuse huiswyn ontwikkel en gewild word – wyn is 'n groot liefde vir Pieter. Kontak hom by 083 357 3864 as jy enige navrae het.
Hierdie soortgelyke taak was blitsvinnig gedoen – wynbottels is aan konferensiegangers gegee by Rode se jaarlikse eiendoms-konferensie in 2005, as korporatiewe geskenke.
Die Nederlandse onderskrif "Verdrijft de Pijn" het klaarblyklik verwys na 'n slegte ekonomiese jaar. Erwin Rode, uitvoerende hoof van Rode & Genote is bekend vir sy sin vir humor, en hy inkorporeer dit in sy konferensietoesprake en skyfievertonings. Om die waarheid te sê, Konrad teken gereeld spotprente vir Rode se publikasie-omslae en vir skyfies by hierdie konferensies.
Hierdie projek moet egter nie beskou word as 'n opregte wynetiketontwerp nie.
The kliënt, Purlikur van Welgemoed in Bellville, het 'n spesiale boks* laat maak vir hulle plaaslik vervaardigde likeurs vir die Anglo-Boere Oorlog* se eeufees-herdenking.
*Mens kan eenvoudig nie meer die korrekte woord "doos" gebruik nie – dit word al té veel geassosieer met die ander betekenis daarvan!
Ons het 'n collage van sepia-kleur foto's van die oorlog gemaak, terwyl ons in gedagte moes hou dat ons nie voorkeur mag gee aan enige kant nie, want die mark het bestaan uit beide Afrikaners, Engelse Suid-Afrikaners en Britse toeriste.
Die beelde het die hoofspelers, asook die oorsaak en gevolg van dié wrede en bittere oorlog voorgestel – dit was die oorlog bekend vir sy guerilla-oorlogvoering en konsentrasiekampe**. Party Suid-Afrikaners – veral Afrikaners – is steeds bitter oor hierdie oorlog wat meer as 'n 100 jaar gelede gevoer is. Die motivering vir die oorlog, soos maar met meeste oorloë, was hulpbronne/hebsug***.
Twee groottes van die boks is vervaardig, wat blitsvinnig verkoop het. Purlikur kry járe later steeds navrae en bestellings. Ongelukkig is Purlikur se eienaar, afgetrede argitek Paul Rode, skielik oorlede in 2010. Hy het sy 3 seuns, 1 dogter en vrou agtergelaat. Oom Paul was 'n neef van Konrad se pa Erwin, en het Purlikur met sy seun Francois bestuur. Beide Erwin en Paul Sr. is/was entoesiasties oor geskiedenis.
Terloops, nog 'n seun van Oom Paul, Paul Jr., besit Bundi Adventures en The River Rafters, beide maatskappye waarvoor Konrad webontwerp en soekenjin-optimering in die verlede gedoen het.
Vandag bekend as die Suid-Afrikaanse Oorlog, waarskynlik omdat geskiedenisboeke tot onlangs toe die vele swart Afrikane wat ook deelgeneem het aan beide kante, uitgelaat het.
** Konsentrasiekampe:
Dis nie die eerste keer dat konsentrasiekampe gebruik is nie, maar dis tydens hierdie oorlog die eerste keer so genoem. Dit was wel die eerste keer dat 'n hele nasie geteiken is vir internering.
Die Britte, toe hulle besef dat die Boeresoldate hulle voedsel by plaasvrouens en -kinders kry, het toe hulle plase en plaashuise afgebrand in 'n "geskroeide aarde" beleid, en het selfs watervoorraad vergiftig. Die vrouens en kinders is in gevangenis gehou in konsentrasiekampe, waar ±27 000 wreed gesterf het van hongersnood en siekte, asook 'n onbekende (maar moontlik groter) aantal swart burgerlikes.
'n Paar dekades later het Duitsland se Nazi regering hierdie verskriklike vorm van "oorlogvoering" natuurlik 'n stap verder geneem.
*** Hebsug:
In hierdie geval het Brittanje belanggestel in die Boerestate nadat goud daar ontdek is. Brittanje het talle dienspligtiges gestuur wat die getal Boeresoldate geheel en al oortref het, maar hulle het gesukkel om aan te pas by die Boere se guerilla-taktieke. Brittanje het toe die oorlog gewen.